Oor #vutha en my land waar ek onwelkom voel

Nuuskierige oortjies wat dan menings wil vorm is nog altyd deel van my wese. My ma moes altyd vir my sê om te gaan speel as die grootmense gekuier het, want ek wou eerder by hulle sit en probeer agterkom wat hierdie tampon-goed is waaroor die vrouens praat. Op vyftien het ek as wroegende, hormonale tiener eenkeer vir my ma gesê “fok jou” toe ek myself oor ‘n onbenullige argument gewip het. Dit is geensins ‘n trotse oomblik nie en ek het daarna die pakslae gekry wat ek verdien het, maar diep binne my het ek tog ʼn soort siek bevrediging beleef omdat ek myself kon uitdruk, hoe lomp en ongeskik ook al. En die pakslae was nie lekker nie, maar dit was regverdig.

Deesdae is die dinge waaroor ek gal wil braak groter. Daar is massiewe dinge wat my hinder. Ek wil braak en braak en braak en maskara-trane huil oor my pragtige land. Vanoggend brand dele van die mooiste Knysna af tot op die grond. My pa se broer en sy vrou woon daar. Ja, in die mansion waarvoor oom Kobus vir weke op ‘n slag moet weg wees van die huis, waarvoor hy ure en nagte moes om werk en partykeer al die lekker van my niggie en nefie se grootwordjare moes mis. Ja, white privilege, ne? Maar privilege werk net wanneer jý werk. Geleenthede en groei gebeur nie as daar nie geploeg word nie. Net soos op ʼn plaas – jy kan plant soveel jy wil, maar as jy nie bloedsweet om die sade nat te lei en die grond te bewerk nie, kan jy maar vergeet van eet, my maat.

Ek gaan oudergewoonte op sosiale media en beland weer tussen kommentare. ʼn Swart persoon skryf (ja, ek moet sê hy is swart, anders het ek nie ʼn punt nie – ek spel dit ook reg en nie onalfabeties soos dié ongevoelige kalant nie): “I actually smiled when I saw what Knysna is going though, because we all know what the majority of the population is there.” Vir ʼn oomblik het dit gevoel of iemand my wind uitgeslaan het. Iets in my het gebreek. Die stilte in my wil breek. Ek kan nie meer stilbly nie.

Ek wil skree vir daai persoon! Alhoewel die grootste gedeelte van Knysna se bevolking Afrikaanssprekend is, is die grootste gedeelte van die bevolking daar kleurlinge. Nié wit nie. Ek wil vir @KeNegroAkere vra of hy regtig so ongevoelig is? Ek wil vir hom vra hoekom velkleur saak maak in ʼn tyd van uiterse nood? Ek wil hom in die oë kyk en vir hom vra of dit regtig okay is met hom dat, onder andere, ʼn gesin van drie met ʼn kleintjie op pad doodgebrand het. Of is dit net iets wat hy sê wanneer hy agter sy Twitter-rekening kan wegkruip?

@JabulaniKhesa skryf: “Dear white people, what’s happening with #KnysnaFire is called #vutha and only black people can save you from it, just bring the land back.” Ek vra toe my vriendin Mpho wat “vutha” beteken. “Slang for ‘cooked’” stuur sy vir my terug. Ek wil gil! Ek wil vir Jabulani vra of hy weet dat slegs 8% van Suid-Afrika se totale bevolking wit is. Ek wil vir hom vra of hy regtig dink alle wit mense het land. Ek wil vir hom vra of hy weet die meerderheid wit mense wat wel land het, se land behoort eintlik nog aan die bank. Ek wil vir hom vra of hy dink ek of my ouers het land, want as hy so dink maak hy ʼn baie groot fout. Ek en Werner huur die plekkie waar ons woon, want ons kan dit nie bekostig om ʼn plek, of dan nou land, te koop nie. Mpho en haar man het onlangs ʼn plek gekoop, waaroor ek baie bly is vir haar. Nie omdat sy swart is nie, maar omdat sy harde klippe gekou het om haarself deur universiteit te sit en ongelooflik hard werk. Sy is so oud soos ek, en het tot dusver nog geen van die beloftes wat destyds gemaak is, vrugte gepluk nie. Alles het sy bereik met haar eie twee hande en briljante slim kop.

Die huidige toestand van ons geboorteland gee my soms slapelose nagte oor die toekoms wat ek en Werner nog hier wil bou. Ek het soveel vrae, en niemand gaan dit vir my kan beantwoord nie. Gaan die toekoms wat ons in gedagte het, kan realiseer? Gaan ons ooit hier in ons geliefde Suid-Afrika met sy swak ekonomie kan floreer, of gaan ons net ʼn dag tot dag bestaan voer in ʼn land waar ons tans redelik onwelkom voel omdat ons velle wit is?

En ja, daar is ʼn legio probleme in Suid-Afrika, maar kom ons wees eerlik: ons is gewoond daaraan. Ons jongmense wat hierdie jaar 30 word, het graad 1 toe gegaan in 1994 toe ʼn utopia van vrede vir alle mense in Suid-Afrika belowe is. Ek was te klein om enigsins te verstaan en ek dink ek het eers regtig van apartheid gehoor toe ek geskiedenisklasse begin kry het later in die laerskool. My eerste herinnering aan Madiba is toe hy so ongelooflik trots tydens die 1995 rugbywêreldbeker saam met Francois Pienaar vir die kamera’s gewaai het. Van daai trots is daar niks oor nie.

Dit beteken dat ons jonges reeds vir die grootste gedeelte van ons lewens oor die weg moes kom met ʼn swak regering, misdaad, korrupsie en om van dienslewering te praat kan jy nie, want daar is nie diens nie. As daar diens is, is dit baie stadig. Party wit mense noem dit “Afrika-tyd”. Is dit rassisties om dit te sê? Of is dit bloot ʼn tong-in-die-kies waarneming van mense wat vroeër gewoond was dat dinge vlot en flink en vriendelik verloop het? Ons wittetjies het mos altyd ʼn grappie te make om die edge af te vat. Ons wat in die stad woon is nog gelukkig as ons nét vyf ure in ʼn ry sit en wag vir iemand om jou met absoluut geen entoesiasme te help met iets wat jy nie self kan doen nie: lisensies hernu, kruideniersware betaal, banksake hanteer. Vir jare het ek gedink die mense is net nie lus vir hulle vervelige werke nie, en kan bloot daarom nie glimlag nie. Hoe ouer ek word, en hoe meer dinge aan my ontbloot word besef ek die onvriendelikheid is dalk ʼn duiwel wat baie dieper ronddraai.

Natuurlik is dit ʼn veralgemening. Net soos dit ʼn veralgemening is dat alle wit mense land het. Net soos dit ʼn veralgemening is dat alle wit mense rassiste is. Net soos dit ʼn veralgemening is dat daar nie genoeg gedoen is om jammer te sê vir apartheid nie. Ja, natuurlik is ons jammer. Ons jongmense is vlóékwoord jammer. Ek sê jammer deur seker te maak ek gee vir die karwag ʼn geldjie as ek ry, al was ek net een minuut in die winkelsentrum. Ek sê jammer deur seker te maak ek onthou my huishulp se verjaarsdag. Ek sê jammer deur almal soos gelykes te probeer hanteer, omdat ek nie in die apartheidsjare daar was om vir die verkrampte wit spul van die 60’s of wat ook al te sê hulle is besig om dit vir hulle nasate op te dinges nie.

Ja, daar is nog baie wit rassiste. Nie almal nie! Inteendeel is ek en Werner nie meer bevriend met sekere mense wat só praat nie, want ons is nie gemaklik daarmee nie en alhoewel ons nog nie kinders het nie, wil ons hulle nie aan sulke praatjies blootstel nie. Ek wil nie my eie ore aan sulke praatjies uitleen nie. Ek hoor elke dag van die regering se kant af hoe alles wat in Suid-Afrika verkeerd is nog steeds net die enkele wit mense wat nog hier oor is, se skuld is. Hoe kan dit wees as ons al vir 23 jaar nie meer die teuels vashou nie? Ons is nou uitgelewer aan mense wat ons openlik haat.

ʼn Regverdige pakslae op sy tyd doen almal die wêreld se goed, glo ek. ʼn Onregverdige pakslae veroorsaak net nog meer woede, kwaad en onmin. Ek het nog baie woorde en gevoelens om op hierdie bladsy uit te kots. Fokofpolisiekar sing in “Lugsteuring”: “Daar’s nog baie bier om te drink en kak om te praat voor ons die wêreld begin reg maak.” Nou ja, ek gaan nou maar êrens ʼn drankie soek. Iets wat nie “dark roast” of ʼn “pale ale” is nie. Eerder iets soos wyn, ʼn rooi Merlot wat in my are kan vloei soos die bloed wat binne-in elkeen van ons op die einde van die dag dieselfde rooi is.

Die (oor)deler is net so goed soos die steler

Sy skuifel haar boude in die kerkbankie in. Heel voor, Bybel onder die arm. “Het jy gesien watse uitrusting het Suzette nou weer vanmôre aan?” vra sy vir haar man en wuif liggies in ‘n blonde vrou se rigting. Toe Suzette skielik op kyk en vir haar glimlag, kan sy nie anders as om skynheilig terug te glimlag nie.

Dominee begin preek. “Gemeente”, sê hy uit die hoogtes, “die Here sê jy mag nie oordeel nie!” Sy knik haar kop. Sy stem beslis saam as die Here so sê. Staan vir gesange en loer weer na Suzette se rok en besluit weer die nommertjie is beslis vier vingers te kort.

Sy kyk na haar man wat langs haar staan en sing dat die spoeg spat. Sy het al gesien hoe kyk hy skelmpies vir Suzette. Maar, oortuig sy haarself, hy is ‘n goeie Christen; hy ken elke woord van elke gesang. Dit laat haar beter voel wanneer sy dink aan sy affair. Hy sê dis nou verby en sy dink sy glo hom. As Christen is skei buite die kwessie, sy moet druk deur die seer en anderpad kyk. Sy het belowe. Nevermind wat hy ook belowe het. Hy het gesê hy sal verander.

Teetyd na die afloop van die kerkdiens word altyd afgerammel. Partykeer sommer heeltemal vermy. Sy kan net nie staan en luister hoe Suzette in haar sletterige rokkie vir haar vertel van die diereskuiling waar sy elke naweek vrywilligerswerk doen nie. Daarvoor het sy beslis nie krag nie.

Miskien moet sy loer wat op Facebook aangaan. “Bekende sangeres en filantroop raak weer verloof”. Sy maak die artikel oop. Die ink is nog skaars droog van haar vorige skeisaak, oordeel sy. Christene mag nie skei nie. Sy is bitter.

Iets aan die sangeres laat haar dink aan Suzette by die kerk. Jy is ‘n slet, tik sy in die kommentaarboks onder die artikel. Goeie Christene skei nie. Jy is geen rolmodel vir jou jong aanhangers nie. En jou wenkbroue lyk soos die hond se gat. Sy is Mara.

Sy voel nie sleg oor haar kommentaar nie. Die popster irriteer haar in elk geval lankal. Alewig in die nuus met die oordadige liefdadigheidswerk wat sy doen. As dit nou nie aandag soek is nie, dan weet sy nie. Mens gee mos sonder om ‘n ophef daarvan te maak.

Op pad huis toe maak sy haar motorruit vinnig toe toe die man bakhand langs haar verskyn. “Ek is so moeg vir bedelaars,” sê sy vir haar man en skud haar kop afkeurend. Sy sien die bedelaar sien die Bybel op die paneelbord. Die afguns in sy oë vang haar onkant.

Sy dink aan Dominee se preek. Jy mag nie oordeel nie. Sy stem nog steeds saam. Jy mag nie oordeel nie. Behalwe as jy dit stilletjies en geheimsinnig doen. Behalwe as jy tenagekom is. Behalwe as jy jaloers en bitter is. Behalwe as jy agter ‘n skerm en ‘n sleutelbord kan wegkruip. Behalwe as jou sonde erger is as my sonde.

Familie is nie ʼn mielie wat jy plant nie

Ek gaan kuier nie sommer vir iemand wat siek is in die hospitaal nie. Slegs by uitsondering. Jy moet ook eintlik net na jy gekraam het eers vir my ʼn foto van jou baba aanstuur vir goedkeuring voor ek vir jou en die splinternuwe Xivoné in die kraamsaal kom kuier. (Wat is dit met mense en die name wat hulle deesdae vir hulle kinders gee? Maar dit is ʼn blog-inskrywing vir ʼn ander dag.) Ek haat hospitale. Dit gee my gevoelens wat ek nie kan beskryf nie, amper soos as die moordenaar in die fliek die meisie in die hangkas gaan betrap en jy wéét dis nou tickets met haar. Angs. Kieme. Dood.

En daar beland ék toe nou pens en pootjies binne-in die hospitaal! Surgical Unit, SG 36. Werner hou darem heelpad my hand vas en selfs na besoektyd verby is mag hy nog by my kuier. Hulle is nie so streng met besoektye in daai saal nie, want ons is nie kritiek nie, sê hulle. Daar is drie ander vrouens met wie ek die saal moet deel. Langs my lê ʼn bejaarde vrou, skuins oorkant lê ʼn baie praterige tannie en reg oorkant lê ʼn vrou wat klets met die vrou wat by haar sit dat die byle huil. Ek is nie lus vir sosialiseer nie en trek my gordyne toe.

Na ʼn halwe dag en ʼn volle nag begin ek eensaam raak en besluit om die wit gordyne oop te trek. Wel, Christina Skosana het besluit, maar ek begin onvermydelik met die vrou oorkant my gesels. Dis haar ma wat hier lê, sê sy. Hulle woon op Bethal, maar die dokters daar het hulle na Pretoria toe verwys, want in Bethal se hospitale “vrek jy”, sê sy. Sy bly maar in ʼn gastehuis naby die hospitaal, ses-honderd-en-vyftig-rand per nag. Dis dúúr, sê ek. “Ek kan nie ʼn prys op my ma se gesondheid plaas nie, so ek sit maar hier elke dag tot sy ontslaan word.”

Ek vra oor die bejaarde vrou langs my. Ek het nog nie familie by haar gesien nie, sê ek. “Nee, haar seun was gistermiddag vir so vyftien minute hier. ʼn Vreemde man was ook hier, dalk ʼn familievriend,” bespiegel Bethal, “maar hy het eintlik ook net ingeloer en gewaai.”

Shame, dink ek. (Ek dink dis net Suid-Afrikaners wat sê “shame”?). Die een se familie wil net nie huis toe gaan nie en die ander een sʼn kan net nie wag om te vlug nie. Die geselserige tannie oorkant my gesels soveel met die mense om haar, die verpleegsters inkluis, dat sy vergeet dat daar nie ʼn enkele persoon by haar kom kuier het nie. Miskien juis om te vergeet. Miskien is haar mense ver, wonder ek. Ek wil eerder nie vra nie, want ek sien as sy jou béét het, het sy jou beet, en my kop is eintlik nog dof van gisteraand se slaappil.

Terwyl Bethal met my gesels, kyk ek kort-kort na my selfoon. Die boodskappe van bekommernis en steun kom in vlae deur. “Sterkte” en “laat weet my” en “is jy okay?”. Vriende en familielede (Werner het ʼn groot, groot familie, maar dis ʼn blog-inskrywing vir ʼn ander dag!) wat wonder oor my welstand. Ek moes my selfoon vier keer herlaai binne twee dae soos wat my mense hulle oor my ontferm het. Selfs mense by wie ek nooit sou gaan kuier het nie, wou by my kom kuier!

My baas Whatsapp ook gereeld om te hoor wat sê die dokter en of ek hulp nodig het met iets. Toe ek by “Discharges” staan om papierwerk in te vul om ontslaan te word, hol my kollega-vriendin by die hospitaaldeure in met ʼn reuse bos pragtige pienk rose. “Ons wou nog vir jou blomme bring, toe is jy al ontslaan! Daar was nie eers tyd vir ‘n kaartjie nie, maar dis van ons almal af!” lag sy. Daar is niks wat my so troos en geliefd laat voel soos blomme nie. Dit het ek by my ma en oupa geërf.

Op pad huis toe gaan my gedagtes terug na die vrouens in my saal. Ek hoop Bethal se ma weet hoe geseënd sy is om ʼn dogter te hê wat so toegewyd is aan haar dat sy bereid is om vir ʼn onbeperkte tyd haar twee klein kindertjies by die huis agter te laat om vir twaalf ure elke dag langs haar ma se bed te waak. Ek hoop as die praterige tannie by die huis kom, haar mense vir haar wag, gereed om na al haar baie stories te luister, maar dat sy hulle ook ʼn kans sal gee om te praat en te luister na wat hulle te sê het. En ek hoop die mense wat die kort kuiertjie by hul gryse ou moeder so afgerammel het, onthou dit met Kersdag of verjaarsdae en sy is nie meer daar om haar kennis te deel en na die tyd soos ʼn blouwildebees in hulle ore voor die TV te snork nie.

Ja, ʼn mens is nie noodwendig altyd lus (of finansieel sterk genoeg) om elke niggie en nefie en tannie en oom se geleenthede by te woon nie, en ek glo ook nie jy hoef nie. Maar jy moet besef dat wanneer die pawpaw die fan strike, of die maagsere ontsteek, of die harte gee in of die babas word te vroeg gebore, is hulle die mense wat laer om jou trek. Dit is die mense wat ʼn kring om jou maak om seker te maak jy val, en staan op, met waardigheid. Dis die mense wat oor jou gaan skinder agter jou rug, maar wat jy drieuur in die oggend kan wakker bel as jy ʼn probleem het en jy kan met sekerheid weet kort voor lank snel die hele spul jou te hulp.

Dít is die kern, die stronk (stront?) van familie. Wat jy saai is nie noodwendig wat jy maai nie. Die ding met familie is, al sien ons mekaar min en ons stry onderlangs, sal ons altyd vir mekaar opstaan en mekaar bystaan wanneer tye moeilik raak. Of jy probeer of nie, met familie kry jy altyd meer uit as wat jy insit, en dis baie lucky, is dit nie?

My ma sê altyd, familie is nie ʼn mielie wat jy plant nie, maar dit beteken egter nie jy hoef nie die plant water te gee en te koester nie. As iemand se vlerk af is, is almal daar om te help spalk. Al het ek gister gesê jou kombuis is kitsch.

Daar is natuurlik ook die familie wat nie bloed is nie. Die vriende wat wil sop bring, die vriende wat wil kom kyk of jy regtig okay is soos jy sê, die kollegas wat bel en blomme aandra. Dít is jou kosbare tribe. Nie die mense wat altyd daar is net wanneer dit goed gaan nie, maar dié wat daar is wanneer dit nie doen nie.

Dít is familie.

Nota: Ek joke net oor die babas, hulle is almal oulik, maar ek gaan kuier nog steeds net vir sekeres.

Vir Nolan Charles Inggs geb. 18.01.2017

As jou moeg ook moeg is vir 2016

Meeste dae sukkel ek om te cope. Okay, seker darem nie meeste dae nie, maar my kollega Esté sê nie verniet (en baie diplomaties) dat ek “ʼn flair vir die dramatiese” het nie.

Dwarsdeur die jaar is daar slegte goed wat gebeur soos karre wat breek, honde wat uitgesit moet word en geld wat nie dadelik in jou bankrekening wys nie, maar ons kom nou op daardie punt van die jaar wanneer dit die klein strooihalmpies is wat die kameel se rug breek.

Ek is doodseker dat meeste mense in die wêreld hulle hande sal opsteek in ʼn peiling van wie nou regtig moeg is vir 2016. Blykbaar is dit ook al wetenskaplik bewys dat die werkersklas teen hierdie tyd van die jaar voel of hulle die penne wat hulle rondstoot in hulle oë kan druk uit pure uitputting en frustrasie. Hierdie tyd van die jaar verander die atmosfeer in die land én in my binneste. Dit gebeur min of meer in dieselfde tyd wanneer winkelsentrums prematuur my einde-van-die-jaar-angs aanwakker deur reeds in Oktober te begin “Jingle Bells” oor die luidsprekers basuin.

Sodra die eerste “daar is nog net 5 weke oor voor Kersfees” boodskappe begin deurkom, kan ʼn mens sommer sien hoe jou medemens daagliks bleker raak om die kiewe. Vanoggend het ʼn joernalis-kollega laat weet sy is laat, want sy moes omdraai om haar skootrekenaar te gaan haal wat sy by die huis vergeet het. Praat van oormoeg oorlog toe gaan sonder ʼn wapen!

As jy kyk na wat ons alles hierdie jaar moes deurmaak, is dit nie vir my vreemd dat die mensdom moeg is nie. Behalwe dat ons vir die meerderheid van die jaar saam met die Amerikaners ʼn pynlike geboorte moes skenk aan die oranjeste president in die geskiedenis, moes ons ook saam met Europa en Brittanje deur die Brexit-debakel swoeg. Ons moes selfs dié jaar deur die Olimpiese Spele sit en kyk hoe China in elk geval al die medaljes wen. Selfs van ons groot helde soos Leonard Cohen, David Bowie en Alan Rickman het die tydelike met die ewige verwissel.

Hier op eie bodem het dit ook nie voor die wind gegaan nie, maar as ek dink aan alles wat ons Suid-Afrikaners moes deurmaak is dit eintlik soos déjà vu. Ons moes (nog steeds) toekyk hoe ons universiteite afgebrand word. Ons krieketkaptein is (alweer) uitgevang vir knoeiery en Gauteng spoel (alweer) weg. Ons renosters is ook (alweer) minder, profete spuit hulle volgelinge (nog steeds) met insekdoder en ons is (nog steeds) in rasgeskille betrokke. En die Springbokke het (alweer) verloor, teen Italië nogal, kan jy nou meer?

Al dink ʼn mens nie so nie, glo ek die gebeure om jou affekteer jou, of jy nou besluit het om die SABC te boikot of nie, want behalwe vir die nuusgebeure moet ʼn mens nog kop bo water hou in jou persoonlike lewe ook. As jy jouself weer kom kry, het jou kar gebreek, jou hond moes uitgesit word en jou geld wys nie in jou bankrekening nie.

My vriendin het dit alles onlangs oorgekom, sommer so drie in ʼn ry. Nou die dag laat weet sy Vodacom het uit die bloute vir haar 20G se selfoondata verniet gegee, en ons almal weet om gratis data te kry is amper soos om die lotto te wen! En toe besef ek net weer, al gaan dit sleg en ons arms en bene voel so swaar soos lood, high five die lewe ons tog wanneer ons besig is om ander planne te maak.

2016 was ook met tye ons vriend wat vir ons omgegee het. Daar was verlowings, troues, babas en Lady Gaga se nuwe album. Daar was die nuwe Harry Potter-boek en Pokemon Go! Mense het depressie en kanker oorwin, ander mense het 1000’e kilometers op fietse afgelê om geld in te samel vir behoeftiges. As ek begin opsoek wat alles reg gegaan het, is dit amper net soveel soos wat verkeerd gegaan het.

En soos ʼn vriend nou die dag vir my sê toe ek my klaagliedere op sy Whatsapp besing: die lewe is morsig en partykeer doen jy net die beste wat jy kan, want niemand het vir jou ʼn handboek gegee nie. Ek dink aan hierdie woorde elke keer wat ek oorweldig raak en my vyf emosionele minute beleef voor ek weer skouer aan die wiel sit!

Mag almal van ons onthou om elke dag net ons beste te doen en ons seëninge en high fives te tel vir die res van 2016 en as jy hier lees en jy gaan uiteindelik met vakansie, hoop ek jy rus net so hard, lank en aanhoudend soos ek!

Hierdie skrywe word opgedra aan Clover. Jy was ʼn cool hond.

Die “ek-is-amper-30″-sindroom

Ek voel deesdae meer my ouderdom en my ouderdom meer. Ek het altyd gesê ek voel nog soos ʼn kind, en my vriendinne is nog kinders wat kinders kry. En dan word jy een oggend wakker en vir een of ander onverklaarbare rede sê jy vir jouself “right, jy is nou seriously amper 30”.

Ek vermoed die keerpunt kom gouer, en meer onverwags, vir meer mense as wat bereid is om dit te erken. Die keerpunt kom ook vir baie mense verskillend. Ek dink ek het myne bereik toe ek eenkeer, kort na my 27ste verjaarsdag, siekverlof moes insit op ʼn Maandagoggend, omdat ek reeds die vorige Vrydagaand teveel shooters gemeng het met my “Vrede & Lust Red Lady” (want soos jy ouer word, word jou poison ook mos fancier).

Daar is egter ʼn hele paar duidelike tekens van die “ek-is-amper-30″-sindroom.

Skielik is jy ʼn oggendmens. Voor 29 was dit nie buitengewoon om op ʼn weeksaand tot na 02:00 in die vroegoggend na televisiereekse te lê en kyk en weer 06:00 so vars soos ʼn lentebriesie op te staan om te gaan werk nie. Of om eers 20:00 saam met vriende te gaan uiteet en na 01:00 in die bed te kom, nadat almal ná ete die naaste kroeg wou besoek vir ‘n “loopdop” net om dan drie tequila’s en R50.00 se kleingeld in die jukebox later eers terug kar toe te strompel. Na 29 bly jy sommer die hele naweek in die bed as jy jouself op ʼn weeksaand ʼn bietjie vergryp en wangedra het.

Jy sit ook jou foon af en hoop mense vergeet jy het gesê jy sal na hulle hond se verjaarsdagpartytjie toe gaan, want jy het mos nou alweer daarvoor óók ja gesê. Voor 29 sê ʼn mens vir alles ja. Kombuistees, babatees, hennepartytjies, troues, die opening van ‘n koevert, noem dit en jy is daar, gedress vir die tema en elke ding. Na 29 is dit moeilik om die gewoonte van ja-sê af te leer, so jy begin verskonings uitdink, of ander goed reël sodat jy net nie die geleentheid hoef by te woon nie.“Jammer, ek kan nie na meer na die kombuistee toe kom nie,” sms jy een dag voor die RSVP-datum aan die gasvrou, “ek het ongelukkig reeds vir my ʼn chemical peel bespreek.” Jy moet weet jy wil regtig nie daar wees as jy eerder geld uithaal om die eerste laag van jou gesig te laat afbrand met suur nie. Jy kry aaklige terugflitse van verlede Woensdagaand wanneer jy tik: “Geniet dit baie, en drink sommer ʼn tequila vir my onthalwe ook.”  Jy het in elk geval jou skoolvriendinne maande laas gesien, en na Chantelle en Pieter geskei is, is niks in elk geval meer dieselfde nie.

Ja. Jou getroude vriende skei. Voor 29 was die grootste deel van jou vriendekring nog ongetroud. Nou sien jy elke ses maande op Facebook nog ʼn jong huwelik het gesneuwel. ʼn Mens kry ʼn paar plooie by as jou vriende skei. Dit voel dan kompleet asof ons kinders is wat huis-huis speel.

Jy begin ook jou klere by Woolworths koop, want jy is nou in ʼn modekrisis gedompel. Jou ouderdom tel skielik teen jou as jy Mr. Price toe gaan. Geen regdenkende amper-30-jarige vrou kan mos nou met ʼn crop top rondloop wat in groot goue letters voorop iets sê soos “#rebel in the sun” nie. Dit maak nie net die bankbalans seer nie, maar ook jou ego, want jy kan nie onthou wanneer het klere met pynappels met gesiggies op te simpel geraak vir jou nie. Jou kredietkaart kan ook nie eintlik meer die druk van al die aankope by Spree hanteer nie, maar voor jy kan sê “add to favourites” is jou klerekaste weer voller en jou koskaste leër. Ook maar goed so, want dit maak die banting makliker.

Dis ook iets wat jy begin doen. Jy begin stysel en suiker uitsny en verskree mense by die werk uit hongerte. Jy en jou vriendinne Whatsapp foto’s van doughnuts vir mekaar en huil by Sanet se kombuistee oor die gewig wat julle na jul eie troues aangesit het. “Ek het twee maande laas brood geëet,” sê Skinny Marinky in die hoek. “Ek hou ook niks in my huis aan wat suiker bevat nie,” sê sy en die trane lê vlak. Sy kyk die vleispasteitjie uit jou bord uit. Jy het besluit, te hel daarmee, jou vriendin trou net een keer, en as jy ‘n vleispasteitjie moet eet om haar loodsing tot binne-in die getroude lewe te vier, dan is dit wat jy gaan doen!

Dit is die lekkerte van die “ek-is-amper-30″-sindroom. Jy maak jou eie besluite. As jy besluit jy wil gaan, dan gaan jy. As jy besluit jy wil trou, dan doen jy dit en so ook skei. As jy besluit jy spandeer elke sent wat jy het op ʼn paar skoene oor die internet, dan dra jy die skoene met trots, want jý het dit gekoop met jou eie grootmens-geld. As jy besluit jy druk ʼn hele pak Eet Sum Mor-koekies in jou keel af voor aandete, dan is dit jou eie saak as jy oor ‘n week nie in jou duur Woolies-broek pas nie.

Op amper-30 ervaar ek ʼn soort gemaklikheid met myself wat ek nie vroeër gehad het nie. Ek hoef nie meer my gesig soos ʼn Plascon-advertensie te verf voor ek ʼn brood by die Spar gaan koop nie. Ek hoef nie meer my keuses aan iemand te verduidelik nie en dit is makliker om te vra vir iets wat ek nodig het en nee dankie te sê vir iets wat ek nie nodig het nie.

Ons sal sien hoe gaan dit as ek uiteindelik die groot drie-nul haal, maar vir nou geniet ek die reis op pad soontoe en glimlag breed met my stywe, chemies-behandelde gesig as my vriendinne foto’s van hulle kinders aanstuur. Die feit is, ons maak nou kinders en is nie meer kinders nie, en dit is okay. Dit is regtig okay.

Wat is ʼn huis sonder Instagram?

Babafoto Pixabay
Foto: Pixabay

My Facebook, Instagram en Twitter-tydlyne is vol babafoto’s. Splinternuwe gesiggies wat my sosiale media platforms soos Anne Geddes-plakboeke laat lyk. Opgewonde mammas laai veertien foto’s van Baba in elke lêende posisie moontlik, twee maal per dag. Sentimeters, gewig en ander areas van groei word aangedui met oulike prentjies wat met slimfoon-apps gemaak word.

Ek gee nie om nie. Ek hou daarvan. Dit is veral interessant om te sien watse name mense vir hulle kinders gee. Die gewone Anna’s, Liesl’s en Michelle’e van die wêreld sterf een vir een uit. Hulle word vervang met die Xiané’s, Mekayla’s en Liebens.

Dis baie oulik. Soms wonder ek wat ek my ongebore kind sal noem. Ek dink aan idees vir ʼn dogtertjie se kamer en wonder of ek my seuntjie sal laat rugby speel. Dit lyk alles so lekker op Facebook, en die kinders is pragtig. Mammas langs dogtertjies in koorklere. Pappas langs die rugbyveld na ʼn Bulletjie-rugbywedstryd. Trofees, perde en ponies in stalle en eerste verjaarsdagpartytjies so groot soos troues.

Dit is nou maar eenmaal so dat sosiale media net ʼn gedeelte van die werklike lewe weerspieël. Alhoewel daar mense is wat graag hulle vuil wasgoed op publieke platforms was, plaas nie almal van ons die lelike en slegte goed op Facebook nie. Die mooi glimlagte en die duur speelgoed wen almal eerste prys op Instagram. 148 “likes” later is jou bloedjie vir jou nog mooier as vantevore en jy kan nie wag tot sy oud genoeg is om vir Sarie se Voorbladgesig van die Jaar-kompetisie in te skryf nie.

Tog is daar agter elke foto ʼn mamma met blou kringe onder die oë, wat geswoeg en gesweet het om daardie inskrywing op Facebook te kon plaas. Om ʼn gesonde kind wat presteer groot te maak sit nie in elke mamma se broek nie. Om seker te maak ʼn kind groei is nie so maklik soos wat dit op Facebook lyk nie.

Voor die lieflike foto van klein Kianté en Jonah op die ponierit geneem is, moes daar nog ʼn duisend-en-een dinge gebeur voor hulle die huis kon verlaat. Aantrektyd is ʼn groot spektakel, want Jonah wil nie dáái broek aantrek nie, hy wil dáái een aantrek. En as mamma vir Kianté los om self aan te trek, lyk sy soos Julia Roberts in Pretty Woman voor sy heeltemal pretty geword het. Terwyl mamma haarself aantrek, hardloop Kianté en Jonah deur die huis, saai verwoesting en baklei oor die iPad. Daarna moet mamma die honde voer, onthou om ekstra klere, sonskerm en medisyne in te pak en die elektroniese betaling vir die bespreking by die ponieplaas doen voor die gesin kan afsit daarheen.

Vragte vol administrasie, kommunikasie, frustrasie en bagasie moes eers agter die skerms plaasvind voor die twee spruite met tevrede kindergesiggies op Facebook kon pryk.

Natuurlik is daar ook baie ander mammas wat agter die skerms hulle arms af werk om vir hulle kinders te sorg sonder die Facebook-applous en die Instagram “likes”. Daardie mammas sal dalk vir jou sê dis oor hulle nie tyd het om inskrywings op sosiale media te maak nie.

Gelukkige Moedersdag aan al die agter-die-skerms-mammas wat ek ken. Cheers op die bottels, die doeke, die partytjies en die rugbywedstryde. Mag julle kinders eendag met dankbaarheid kyk na die kiekies en weet dat die donker kringe onder mamma se oë daar is omdat sy lief is vir haar kinders.

Geagte meneer Die Dieremishandelaar

MaggieGeagte meneer Die Dieremishandelaar

Ek noem jou sommer meneer, want eintlik het ek nie ʼn idee hoe jy lyk nie. In my kop is jy die toonbeeld van euwel, maar euwel loop mos tussen ons rond soos ʼn wolf in skaapsklere.

Meneer, ek skryf sommer om vir jou te sê ek het jou steekbaardhondjie verlede naweek by die skuiling gered. Ek glo nie dat jy enigsins belangstel om te weet hoe dit met haar gaan nie, maar ek gaan jou vertel.

Ons het haar Magenta gedoop, Maggie vir kort. Ons ander honde is ook vernoem na karakters uit The Rocky Horror Picture Show, so ons het nie lank gesukkel om vir haar ʼn naam uit te dink nie. Ek weet nie wat jy haar genoem het nie, want sy het nie ʼn bandjie of ʼn mikroskyfie met haar besonderhede gehad toe sy by die skuiling afgelaai is nie.

Iemand het haar alleen langs die pad opgetel, meneer.

Die mense by die skuiling weet baie van diere af, meneer. Hulle het gratis na haar omgesien, want hulle wys nie diere weg nie. Hulle het haar selfs reggemaak en gesorg dat sy warm is, en vir wat dit werd is, vir haar ʼn naam van ʼn lys af gegee. Dis seker beter as ʼn nommer, nè?

Dit laat meneer dalk beter voel om te weet daar was baie ander diere ook by die skuiling. Ander honde wat baie ouer en in ʼn slegter toestand is as wat Maggie was. Maggie was gelukkig, in die relatiwiteit van die term, want sy was net ʼn week daar voor ons haar gekry het. Van die ander honde soos Maggie is maande daar, meneer. As niemand hulle aanneem nie, word hulle uitgesit.

Hulle het ons gewaarsku dat hulle vermoed meneer het haar mishandel voor sy by die skuiling deur die Samaritaan afgelaai is. Is dit hoekom sy nie saam met die ander honde wil gaan stap nie, meneer? Sodra ons die leiband om haar lyfie sit gaan lê sy plat op haar sy, skop haar bene stokstyf voor haar uit soos ʼn kind wat ʼn tantrum gooi en tjank saggies totdat ons die leiband weer afhaal. Is dit miskien omdat meneer haar vir ʼn lang tydperk êrens vasgemaak het? Dalk dink sy in haar hondebrein dat ons haar weer op ʼn ander plek gaan aflaai omdat ons haar nie meer wil hê nie. Sy was mos nie die eerste keer welkom by meneer nie.

Maggie geniet haarself gate uit by haar nuwe tuiste. Met die intrapslag het sy haarself op die sitkamerbanke tuis gemaak, die bed in die hoofslaapkamer verken en seker gemaak sy vat ʼn hap kos en ʼn sluk water uit die bakke wat ons klokslag vir Maggie se nuwe maats vol maak. Sy het sommer van die eerste aand af by ons in die bed geslaap.

Sy lek ons die heeltyd. Ek weet nie of meneer weet nie, maar Google sê angstige honde wat onseker is van hulself doen dit om hulself te paai.

Maggie hou ook niks daarvan as sy raas kry nie, meneer. Sy skud nie ons harde stemme af soos ons ander honde nie. Sodra daar ʼn stem verhef word of ʼn harde geluid êrens klap, gaan lê sy plat op die grond en wil nie eers die koekies wat ons vir haar uitdeel eet nie. Dis baie vreemd, meneer, maar ek is seker jy weet hoekom sy so optree.

Soos ek sê, meneer, meneer kan netsowel ʼn vrou ook wees. Van enige ras, ouderdom of kultuur. Want sien, meneer, mense soos jy se name word nie bekendgemaak nie. Hoe sal ons ooit kan weet wie die monsters is wat dit aan ons diere doen? Hulle sê ʼn mens kan sien hoe goed ʼn land vaar as jy kyk hoe sy kinders en diere behandel word. Dit is nie ʼn geheim dat dit sleg gaan in Suid-Afrika nie, meneer, maar ons diere ly as gevolg van mense soos jy.

Op ʼn laaste noot wil ek net vir meneer sê dat Maggie die beste ding is wat in ʼn lang tyd met ons gebeur het. Sy is vriendelik, liefdevol en spelerig ten spyte van die klappe wat meneer en die lewe vir haar uitgedeel het. Haar gesig kan die dag heelmaak wanneer dit breek.

Ek hoop met my hele wese, dat Maggie die eerste en die laaste troeteldier is wat ooit op jou werf sal beland. Meneer Die Dieremishandelaar, jy weet nie op watse ongelooflike, onkondisionele liefde jy uitmis nie.

Die uwe,

Leonie Bezuidenhout

Boor vir my ʼn gat, Werner

Plant vir my 'n boom, André
Foto: http://www.pixabay.com

Dis stil in die Markteater in Johannesburg. Voor ons op die verhoog speel ʼn liefdesverhaal af. ʼn Diep, passievolle liefde. Die Afrikaanse letterkundiges André P. Brink en Ingrid Jonker se romanse was, om die minste te sê, onstuimig.

Die rol van Ingrid word foutloos vertolk deur Tinarie van Wyk Loots. “Plant vir my ʼn boom, André,” dring sy aan. Sy strek haar lyf soos ʼn lui kat uit oor André, vertolk deur Erik Holm, se lessenaar. Die lessenaar is vol briewe en dokumente.

Die twee het oor en weer gevry dat die spoeg spat, geskryf dat die ink loop, en baklei dat die hare waai. Tydens “die bloedbad van Barcelona”, soos Ingrid dit noem, het André tydens ʼn Europese vakansie vir Ingrid gesê hy het besluit om nie sy vrou te los vir haar nie. Dit het hulle aan-af verhouding vir die laaste keer beëindig. Ingrid het kort daarna, op 19 Julie 1965, in die see ingeloop en verdrink.

“Plant vir my ʼn boom, André!” sê Ingrid weer. “Plant vir my ’n akkerboom, sodat ek my gestalte kan herken en dat die eekhorinkies hul akkers kom begrawe,” vra sy vurig. Rondom hulle is stapels ou boeke uitgepak. Uit die dak hang koeverte aan vislyn. Dis ʼn droomwêreld van woorde en papier.

Hulle betower die gehoor. Die vrou wat agter my sit vroetel kort-kort in haar handsak vir ʼn snesie. Oh, dis emosioneel! Ons leef onsself in hierdie ware verhaal in.

“Gee vir my ’n hond met pote wat ek kan soen snags as jy slaap toornig en goed,” smeek Ingrid weer vir André, alles in een asem.

“Moenie dat hul my boom afkap nie; ontwortel, verguis, versplinter nie; gee hom ’n hemel met blou akkers,” pleit sy. Want Ingrid wou net ʼn monument oprig wat haar en André se liefde sou vergestalt. ʼn Baken wat as bewys kon dien dat hulle eens op ʼn tyd mekaar lief gehad het.

In die motor op pad terug Pretoria toe besin ek en Werner, my man, oor wat voor ons oë afgespeel het op die verhoog.

“In vandag se tyd is mense nie meer so nie,” sê ek vir Werner.

“Ja,” beaam hy, “ons stuur vir mekaar Whatsapp-boodskappe oor wat ons gaan eet en of die een vir die ander ʼn baadjie moet saambring as dit koud is.”

“En niemand plant vir mekaar bome nie,” maak ek ʼn grap.

“Nee,” sê hy, “ons plant nie bome nie, maar ons doen ander goed vir mekaar.”

Ons albei bly ʼn rukkie stil. David Bowie speel saggies in die agtergrond terwyl die liggies langs die hoofweg my gedagtes verdiep. “Oh we can beat them, for ever and ever, then we could be heroes, just for one day…

Ons plant nie vir mekaar bome nie, nee. Niemand gaan eendag boeke en verhoogstukke oor ons liefdesverhaal skryf nie, maar ons is elke dag mekaar se helde in die eenvoudige goed wat ons vir mekaar doen.

Ons betaal mekaar se rekeninge as die geldnood knyp, ons vryf mekaar se rûe as dit seer is na die dag se werk en ons maak seker ons huisplante en honde – wie se pote gereeld gesoen word – bly aan die lewe. Ons maak seker die gras word gesny, die bediende word betaal en dat ons betyds is vir werk.

As Werner my die dag regtig wil bederf, dan boor hy die gat in die muur waaroor ek my wange vir ‘n week moes opblaas voor dit gedoen word. En as ek iets vir hom wil doen, draai ek die tandepasta se doppie terug en tel my skoene van die vloer af op.

Tog na dit alles, bly ʼn verhaal soos die van André en Ingrid ʼn fassinerende een. Een wat 50 jaar na haar dood steeds relevant is.

En ek wonder of André toe ooit Ingrid se boom vir haar geplant het. Ek hoop so, regtig, ek hoop so.